Gaan na inhoud

Anna M. Louw

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Anna M. Louw
Anna M. Louw
Anna M. Louw
Gebore31 Desember 1913
Sterf12 Junie 2003
NasionaliteitSuid-Afrika
BeroepSkrywer
Bekend virRomans
KindersWendy, Nicholas, Elizabeth, Christina en Editha

Anna Margaretha Louw (31 Desember 1913 - 12 Junie 2003) was 'n Afrikaanse skrywer en 'n wenner van die Hertzogprys.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Sy is naby Calvinia in die destydse Kaapprovinsie, Unie van Suid-Afrika gebore. Na hoërskool studeer sy aan die Universiteit van Stellenbosch, met hoofvakke Engels, Afrikaans, Nederlands, Duits, Frans en Sielkunde. Na universiteit trou sy met Lewis Hurst. Die egpaar gaan woon twee jaar in New York, Verenigde State.[1]

Met haar terugkeer na Suid-Afrika behaal sy 'n verdere baccalaureus-graad aan die Universiteit van Kaapstad. Sy skei van haar eerste man, en begin te skryf - aanvanklik tydskrifartikels en kortverhale wat in die Sarie gepubliseer is -- kort na haar huwelik met Gerhard Bassel. Die egpaar reis baie rond, onder meer in Europa en Meksiko.

Sy het vyf kinders gehad, Wendy, Nicholas en Elizabeth vanuit haar eerste huwelik; en 'n tweeling, Christina en Editha met haar tweede man.

Sy verower die Olive Schreiner-prys vir Prosa in 1964, vir Twenty Days That Autumn; die Scheepersprys vir Jeugliteratuur in 1968 vir Die voortreflike familie Smit; die W.A. Hofmeyr-prys in 1971 vir Die groot gryse; die Hertzogprys in 1976 vir Kroniek van Perdepoort, asook die W.A.Hofmeyer-prys en die CNA-prys in 1977 vir dieselfde werk.[2]

Sy word deur vooraanstaande akademici as een van die belangrikste Afrikaanse romanskrywers beskou. Die ewige stryd tussen die goeie en die bose word besonder kreatief in haar werk ontplooi, en sy word geloof vir haar wegbreking vanaf die literêre tradisie van plaaslike realisme.[3]

Sy sterf in Rondebosch, Kaapstad, Republiek van Suid-Afrika.

Lewe en werk

[wysig | wysig bron]

Anna Margaretha Louw is op 31 Desember 1913 op die plaas Soetwater in die distrik Calvinia gebore.[4] Haar pa is hier ’n skaapboer en deeltydse skaapinspekteur, terwyl haar ma onderwyseres was op die skool op die plaas. Sy is die tweede van vier kinders en is ’n kleinniggie van N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw. Sy behaal standerd ses op die plaasskool op Soetwater, waar N.P. van Wyk Louw in 1924 ’n kwartaal lank vir haar skoolhou terwyl haar ma op kraamverlof was. Op vyftienjarige leeftyd matrikuleer sy aan die Hoërskool Calvinia en verwerf beurse vir verdere studie aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad met haar goeie resultate. Hierna studeer sy vanaf 1930 tale (Afrikaans-Nederlands, Engels, Duits en Frans), Etiek en Sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in 1932 ’n B.A.-graad verwerf.[1][3]

Sy begin na universiteit werk by die versekeringsmaatskappy Sanlam. Na sowat agtien maande tree sy op twintigjarige ouderdom in die huwelik met dr. Lewis Hurst, later professor in Psigiatrie aan die Universiteit van die Witwatersrand, ’n huwelik waaruit drie kinders (Wendy, Nicholas en Elizabeth) gebore word. Sy vergesel haar man op 25-jarige ouderdom op ’n studiereis na die Verenigde State van Amerika, waar sy vir twee jaar in New York woon en kursusse in kuns en joernalistiek aan die Universiteit van Columbia volg. Hier het sy ook die geleentheid om drie maande lank per motor in die Verenigde State van Amerika, Meksiko en Kanada te reis. In 1943 skryf sy weer in as student by die Universiteit van Kaapstad en in 1944 behaal sy die B.Soc.Sc.-graad. Na haar egskeiding trou sy met die ekonoom dr. Gerhard Bassel en die egpaar vestig hulle in Rosebank in Kaapstad. Twee kinders (die tweeling Christina en Editha) word uit die huwelik gebore.

Sy het ’n besondere belangstelling in die mistieke en verskillende godsdienste, wat sy vir meer as dertig jaar bestudeer en hierdie belangstelling vind neerslag in haar werk. Verder onderneem sy uitgebreide besoeke aan Wes-Europa, die Skandinawiese lande, Rusland en Israel en oor hierdie ervarings publiseer sy verskeie reisverhale. Vir haar romans oor Paul Kruger doen sy uitgebreide navorsing en besoek onder andere Den Haag in Nederland waar sy by die Koninklike Argief navorsing doen oor Kruger se besoek aan Nederland, waarna sy ook in die voetstappe van Kruger sy reisplan na en deur Europa volg. Onderweg reis sy langs die ooskus van Afrika, deur die Suez-kanaal en die Middellandse See na Europa. In Suid-Afrika doen sy navorsing in die Kaapse Argief en op Boekenhoutfontein, Kruger se plaas naby Rustenburg, terwyl sy Pretoria ook meermale besoek. Vir Wolftyd doen sy ’n jaar lank navorsing en besoek Berlyn, Innsbruck en die omliggende Tirool om eerstehands kennis op te doen van die landskap wat die hoofkarakter tydens Nazi-Duitsland gevorm het.

In 1975 aksentueer sy haar alleenloperskap met betrekking tot literêre bewegings, deur uit die Afrikaanse Skrywersgilde te bedank en te dien in die Kaapse komitee van die Publikasieraad. Die grondwet van die Gilde het dit onmoontlik gemaak om lid te wees van die Gilde en ’n staatsliggaam wat sensuur toepas. In 1977 bedank sy as lid van die Publikasieraad uit protes teen die verbanning van Magersfontein, O Magersfontein! van Etienne Leroux. In 1982 bedank sy ook as lid van die paneel deskundiges wat die Direktoraat van Publikasies adviseer. Na haar man se dood in 1990 vestig sy haar in ’n woonstel in Rondebosch in Kaapstad. Sy is op Donderdag 12 Junie 2003 in haar woonstel in Rondebosch oorlede,[5] nadat haar gesondheid sodanig verswak het dat sy die laaste paar maande van haar lewe weens long- en hartkwale gereeld in en uit die hospitaal was.

Skryfwerk

[wysig | wysig bron]

Op skool reeds beïndruk haar opstelle en sy hou vir die eerste keer dagboek tydens haar verblyf in Amerika. Sy verken verskillende mediums vir haar kreatiwiteit en skryf onder andere kortverhale, reisverhale, jeugverhale, romans, novelles, dramas en radiodramas. Eers toe die kinders betreklik selfstandig is, begin sy ernstiger skryf en debuteer met ’n kortverhaal in Die Huisvrou, destyds onder redakteurskap van Audrey Blignault. Hierdie kortverhaal handel oor ’n wit seun wat in ’n Kleurling-weeshuis grootword en dan sy plek in die witmanswêreld moet soek. Daar verskyn ook van haar kortverhale, vervolgverhale en novelles in Die Huisgenoot, Die Brandwag, Tydskrif vir Letterkunde, Naweekpos en Sarie Marais. Van die vervolgverhale wat so verskyn, is Tweede liefde (Naweekpos 1954–1955), Huis van wraak (Die Huisgenoot 1955), Duister bestemming (Naweekpos 1956–1957) en Die Groot Trek van die du Toits (Sarie Marais 1957). In hierdie tyd neem sy aan verskeie letterkundige wedstryde deel en wen ’n eerste prys in ’n vervolgverhaalwedstryd van Naweekpos. Met hierdie prysgeld finansier sy haar eerste Europese reis.[3]

Romans en novelles

[wysig | wysig bron]

Dit is veral op die gebied van die roman en novelle wat sy ’n groot bydrae maak tot die Afrikaanse letterkunde. Die onverdeelde uur verskyn oorspronklik in Sarie Marais en speel af langs die sterfbed van ’n boer waar die drie hoofkarakters met die verlede, die hede en dit wat kon gewees het, gekonfronteer word. In ’n mindere mate bring sy reeds hier vernuwing in die Afrikaanse prosa deur hede en verlede deurentyd te vermeng en weg te beweeg van die tot op daardie stadium algemene chronologiese vertelling. Die verhaal speel af tydens die sterwensure van die boer Giel van Rensburg, waaruit die verlede dan opgeroep word. Ook met die vertellersperspektief bring sy ’n interessante nuwe tegniek (vir die tyd) na vore. Die hede word verhaal deur ’n alwetende verteller, terwyl die verlede telkens deur die gedagtewêreld van een van die drie sentrale figure met al die implikasies daarvan gesien word. Dwarsdeur die novelle is daar dus ’n gedurige wisseling van beide die tyd en vertellersperspektief. Die karakters is die trotse boer Giel van Rensburg, sy broer Jan met sy vrou Elmien en hulle seun Collie. Giel aard na sy oupa (ook Giel) en was sterk en vooruitstrewend, terwyl sy broer Jan na hulle ouers aard en ’n swakkeling is. Albei is op die buurdogter Elmien verlief, wat heimlik op Giel verlief is maar eindelik met Jan trou. Giel wou die verwaarloosde plaas met die hulp van Jan en met Elmien as sy vrou weer opnuut opbou, maar Jan het nie sinnigheid in die boerdery gehad nie en besluit sonder Giel se medewete om in Kaapstad op die spoorweë te gaan werk. Elmien word onderwyseres by die plaasskooltjie en interpreteer Giel se onvermoë om sy ware gevoelens teenoor haar in woorde te formuleer verkeerd as ’n gebrek aan ware belangstelling en trou daarom met Jan. Giel bly dan vereensaam met sy hartseer op die plaas agter en probeer vrugteloos om ’n sukses van die boerdery te maak. Die titel van die verhaal wys op die onverdeelde uur waarin Giel en Elmien, wat eintlik vir mekaar bestem was, eindelik vir die eerste en laaste keer uitsluitend by en vir mekaar is. Giel is die dominante en sentrale karakter en Jan en Elmien se optredes in die verlede word gemeet aan Giel, terwyl die ontwikkeling wat in karakters soos Jan en Collie in die loop van die roman plaasvind, ook slegs geskied as gevolg van hulle interaksie met Giel. As leemtes kan uitgewys word die karakter van Collie, wie se kinderagtige optrede en toekomsdrome ongeloofwaardig aandoen, terwyl die verhouding tussen Jan en Elmien nie voldoende ontwikkel en gemotiveer word nie, veral gegewe hulle huwelik van ongeveer veertig jaar. Rob Antonissen beskou hierdie novelle as een van die “waarlik goeie dinge” in die Afrikaanse letterkunde van sy tyd.[6][7]

In Die koms van die komeet lei die bonatuurlike verskyning van die komeet wat moontlik met die aarde kan bots tot ’n eksistensiële krisis by 'n aantal mense in die stad en word hulle gedwing om ernstige selfondersoek te doen. Die geneesheer in ’n voorstedelike woonbuurt, dr. Ters Malherbe, is die hoofkarakter en die gebeure speel af met hom en die mense met wie hy in aanraking kom. Epidemies breek uit en die paniek loop hoog, waardeur sommige tot histerie gedwing word en ander die toets van beproewing deurstaan. Met die vooruitsig op vernietiging toon die mense hulle ware beeld en word hulle gedwing tot eerlikheid en helderheid oor die doel van hulle bestaan en die waardes waarvolgens hulle lewe. Die interessante tema kom egter nie tot sy reg in hierdie roman nie, hoofsaaklik omdat die spanning van die buitengewone omstandighede nie voelbaar gemaak word nie en die karakters oor die algemeen nie genoegsaam met die angs en dringendheid van die verskynsel besiel word in hulle denke en optrede nie. Die analogie tussen Maria Vercuyl en haar ongewenste kind wat nêrens welkom is nie, is verder ’n te geforseerde en weinig funksionele analogie met Maria en Christus.[8]

Die jeugroman Die voortreflike familie Smit is aanvanklik ingeskryf vir ’n prysvraag van die Vroue Landbouvereniging sonder om enige prys te wen. Audrey Blignault en Alba Bouwer het egter ’n hoë dunk daarvan en deur hulle bemiddeling word dit as vervolgverhaal in Sarie Marais gepubliseer. Die goeie ontvangs wat dit hier geniet, lei tot publikasie in boekvorm daarvan. Dit is 'n ligte verhaal oor die alledaagse lewe van ’n plattelandse familie van die Boland wat na Kaapstad toe trek, soos gesien deur die oë van die matriekdogter Grietjie. Sy begin naamlik om in opdrag van haar oupa die familiegeskiedenis op te teken, maar fokus eerder op lewendige wyse op die doen en late van die familie. Pa is laaimeester en sukkel om kop bo water te hou, Ouma en Ma help met naaiwerk om die inkomste aan te vul, Grietjie se vet ouer suster, Petro, hou skool en dan is daar die stoute tweeling, Ella en Sienie. Die gesin het dit nie breed nie, maar hulle maak die beste van ’n slegte saak en die ingebore adel en ordentlikheid straal uit hulle handelswyses, ondanks die terugslae wat hulle tref. Dit is veral Oupa Smit wat met sy plattelandse gewoontes en onaanpasbaarheid in die stad vir talle geestige situasies sorg. Hy word as onpraktiese maar beminlike figuur ’n geestige afwyking van die tradisionele streng en baasspelerige pater familias in die Afrikaanse prosaliteratuur. Ten spyte van al die teenstand kan Grietjie verder gaan leer en haar ophef, terwyl Petro maer word en met Grietjie se geliefkoosde Afrikaans onderwyser trou. Pa bly laaimeester en die lewens van Oupa en Ouma en Ma verander nie, ook nie die hegtheid van die familiebande nie. Hierdie boek word in 1968 met die Scheepers-prys bekroon. Carfo maak ’n rolprent gebaseer op die boek en dit word in 1983 ook in ’n reeks vir televisie verwerk en gebeeldsend.

Haar enigste Engelse roman, Twenty days that autumn (21 Maart9 April 1960), behandel die Suid-Afrikaanse politieke aktualiteit na aanleiding van die opstande in Langa en Nyanga in die Kaap na die Sharpeville-slagting. Die gebeure word dag vir dag, amper soos in ’n geromantiseerde dagboek, gerapporteer en die roman beweeg op die grens van literatuur en politieke beriggewing. Hierdie procedé word veral vanaf die sewentigerjare deur verskeie skrywers, soos Elsa Joubert, André P. Brink en J.C. Steyn, nagevolg. Die gebeure word weergegee in die vorm van verskillende karakters se uiteenlopende belewenisse en karakters sluit in ’n blanke Afrikaner (Jacob van Reenen), ’n blanke Engelssprekende (Ian Smyth), ’n bruin man (Dawid Dawids) en ’n swart vrou (Mrs. Shuba). Hierdeur word alle kante van die konflik uitgelig, hoewel ’n besondere sterkpunt van die roman juis is dat die karakters as mense geteken word en nie net as protagoniste vir ’n standpunt nie. Die roman fokus eerder op die manier waarop mense uit verskillende agtergronde deur die aktuele gebeure geraak word en daarop reageer. Twenty days that autumn ontvang in 1964 die Olive Schreiner-prys.

Anna Louw maak vir elf jaar lank ’n indringende studie van Paul Kruger en skryf dan die romans Die banneling: Die lyfwag en Die groot gryse oor sy lewe.[9] Die banneling: Die lyfwag is gegrond op die dagboeke van Manie Bredell, wat eers lyfwag en later privaatsekretaris van Paul Kruger was. Dit vertel die verhaal van die president se reis na Europa om steun te wen vir die Boere tydens die Anglo-Boereoorlog en sluit af met sy dood in Clarens in Switserland. Hierdie verhaal word vanuit ’n agterna-perspektief deur Bredell vertel, wat ná die president se dood sy dagboeke orden en dan die voorafgaande vier jaar met terugflitse herbeleef. Só word Bredell as verteller uiteindelik die hoofkarakter van die verhaal, wat gesentreer is rondom sy verhouding met die president. Bredell het sy taak as lyfwag met weinig geesdrif uitgevoer en het deurentyd die begeerte gehad om terug te keer na Transvaal en daar daadwerklik ’n aandeel aan die stryd te hê. Nou word hy deur ’n skuldgevoel gepla en sorg die tweespalt tussen plig en eie begeerte, die jaloesie op ander figure rondom Kruger en sy eie minderwaardigheidsgevoel vir ’n boeiende innerlike stryd. Die titel verwys na die president enersyds en Bredell andersyds.[10][11] Die groot gryse oor Paul Kruger se hele lewe beskou Louw persoonlik as die hoogtepunt in haar oeuvre. Die titel van die roman is ontleen aan ’n gedig van P.C. Boutens oor die president. Kruger sit hier aan die einde van sy lewe in 1904 in ’n villa aan die meer van Genève by Clarens en neem bestek op van sy lewe, sy land en sy volk. Telkens verskyn hy soos ’n dubbelganger in een van sy vroeëre gedaantes en speel die geskiedenis voor hom af, waarna hy die gedaante onder kruisverhoor neem om die doel en waarde van die gebeure in die geskiedenis te bepaal. Die terugflitsgebeure word grotendeels chronologies aangebied en begin met die kind Paultjie, die veglustige Pollie van sy eerste huwelik, die veldkornet en later die kommandant-generaal wat die versoeking van mag en leierskap en die eiewaan wat daarmee gepaard gaan, leer ken. Ander gedaantes van homself waarmee hy gekonfronteer word, is die Vader, die President en die Voorbidder.[12] In beide hierdie werke verbind Anna M. Louw twee belangrike temas vir haar oeuvre, naamlik godsdiens en volksverbondenheid. Sy maak ook hier gebruik van selfs ’n meer komplekse tydshantering deur nie net hede en verlede te laat verwissel nie, maar ’n aantal tye deurmekaar te weef en vroeër gebeurtenisse te sien deur die wysheid van latere insig. Kruger word uitgebeeld as ’n mens binne die konvensies van sy tyd, met beide sy menslikheid en krag binne die opsienbarende gebeure wat tydens sy leeftyd gebeur het. Die groot gryse verwerf in 1971 die W.A. Hofmeyr-prys.

Wanneer Kroniek van Perdepoort in 1975 verskyn,[13] lok dit baie positiewe reaksie uit.  Die gebeure sentreer rondom die herbegrafnis van die grondlegger van die Lotriet-familie, Koos Nek (so genoem weens sy hoogmoed), vyftien jaar na sy dood. Hierdie herbegrafnis word deur die hele familie bygewoon en word genoodsaak omdat Koos se seun, Attie Hardehand, die grond vir ’n nuwe spanspekland wil gebruik. Die gebeure vind plaas oor slegs drie dae, maar behandel met terugflitse die lotgevalle van die Lotriet-familie oor ’n periode van ’n aantal dekades. Aan die begin van die twintigste eeu het die Bolander Koos Lotriet hom op die plaas Perdepoort aan die voet van die Swartberge gevestig. Hy bou ’n spogplaas op en dien in verskillende bestuursliggame en verenigings, maar hy en sy vrou word as gevolg van sy hoogmoed nooit volledig in die gemeenskap opgeneem nie.[14] Ná sy dood sit vier van sy seuns (Attie Hardehand, Jan Pampoen, Klaas Kamer en Kobus Karba) die boerdery voort, terwyl die jongste, Chris Predikant, in die teologie studeer. Gesamentlik verteenwoordig die vernaamste karakters (almal familielede) die sewe doodsondes en hulle is almal terdeë van hulle sondigheid en die impak op hulle lewens bewus, met die terugkerende paddabeeld wat simbool word van die moeras waarin hulle gedompel is. Terselfdertyd is daar egter ’n strewe na die lig en na iets duursamer en mooier. Koos Nek verteenwoordig hoogmoed en trots, asook die kollektiewe trots van ’n beskawing, en in sy nageslag versplinter sy trots in die sondes wat beslissend vorm gee aan die persoonlikhede en lotgevalle van sy vyf seuns en kleinseun;[15] Attie Hardehand se hele uitkyk op die lewe word in so ’n mate deur vrekkigheid en hebsug gekleur dat dit sy grootste ideaal is om die ander broers van hulle gedeelte van die plaas te ontfutsel; Jan Pampoen leef die sonde van afguns en sy seun Jaco dié van woede en ongeduld; Kobus Karba maak hom skuldig aan drank- en vraatsug; Klaas Kamer se traagheid van gees hou hom terug en Chris Predikant stoei met onbeheerbare wellus. Die eerste deel van die boek word genoem[16] Die lykskouing en is gedateer Sondag 9 Maart, die tweede deel is Die begrafnis gedateer Saterdag 8 Maart en die derde en langste deel is Die getuies gedateer Vrydag 7 Maart. Hierdie omgekeerde hantering van die tydsverloop maak die eerste en tweede dele dan ’n beligting of eksposisie van die eerste deel, waardeur die handelinge van die derde deel,[17] hoewel dit in  normale tydsverloop reeds afgeloop is, verklaar word. Hierdie gesigspunt suggereer dan ook die sirkelwerking van die bose in die karakters se lewens, wat vorentoe in die toekoms en agtertoe in die verlede op mekaar impak het. Chronologies eindig die verhaal met die selfmoord van Kobus Karba terwyl Klaas Kamer ’n ontmoeting met die duiwel het, maar hierdie gebeure word reeds in die eerste deel van die roman behandel. Die effektiewe gebruik van die achronologiese struktuur van die roman,[18] waardeur die leser vanaf die tweede deel groter insig in die gebeure het as die karakters, die parodie op die plaasroman en die groots opgesette ontleding van die ewigdurende stryd tussen goed en kwaad maak hierdie roman ’n onbetwiste hoogtepunt in die Afrikaanse letterkunde.[19] Teenoor die Lotriet familie staan die eenvoudige bruin mense van Ertmanstasie en op effektiewe wyse vind soortgelyke gebeurtenisse op Perdepoort onder hulle gemeenskap ook plaas, sodat dit wrang kommentaar word op die gebeure by Perdepoort. In groot mate is die figuur van Kobus Karba ’n saambindende faktor tussen die rassegroepe, aangesien Fielies klaarblyklik sy seun by Mietjie is.[20]Kroniek van Perdepoort verower die C.N.A.-prys in 1975, die Hertzogprys in 1976 en die W.A. Hofmeyr-prys in 1977.[21]Hierdie werk word in 2013 deur Rob van der Veer in Nederlands vertaal, waar dit baie positiewe kritiek ontvang.[22]

Op die rug van die tier vertel die verhaal van Wynand Vercuyl wat in sy laat-middeljare by sy werk by Eureka-Uitgewers ontslaan word weens die firma se finansiële probleme en dan sy lewensverhaal op versoek van mnr. Wessels, sy voormalige baas, skryf. Die verhaal word in die eerste persoon vertel en strek van sy geboorte, deur die dertigerjare tot by die onluste van 1976 en vertel van sy liefde vir sy eerste vrou en hulle egskeiding, sy seun se verhouding met ’n vrou en die kind wat daaruit gebore word, sy kortstondige liefde vir ’n ander vrou en die terugkeer van sy eerste vrou en hulle vreemde versoening. Dié streng persoonlike verhaal word geplaas binne die konteks van die politieke gebeure van Sharpeville en die onluste van 1976, waardeur die skrywer poog om die gegewe te verdiep met wisselwerking met groter magte waaroor die individu geen beheer het nie. Die werk is dan ’n allegorie van soeke na die sin van die lewe en redding vir die onsterflike siel, met die titel wat verwys na hoe moeilik dit is om bo te bly in hierdie lewe. Om af te klim is om tou op te gooi en die enigste oplossing is om op die rug van die tier te bly totdat jy hom getem het. Wynand vertel sy verhaal om ’n antwoord te vind op die vraag “Wie is ek?”, sodat dit ’n soeke na identiteit word. Terselfdertyd gee die verhaal ’n voëlvlug van die gewone Afrikaner se lewe in hierdie land en die faktore wat sy bestaan gevorm en geraak het. Wynand se kwelgeeste, wat as allegoriese simbole binne homself aanwesig is, sluit in Grapjas, Jongeling, Vrek, Vryer, Agie, Slimmerd en Verbeelder. Hy het gereelde gesprekke met hierdie figure wat lei tot ’n soort debat met homself, maar hierdie geeste word nooit werklik angswekkend of treiterend nie. Op interessante wyse distansieer Wynand hom ook gereeld van homself om dan kommentaar op homself te lewer, terwyl sy interaksie met mnr. Wessels verdere lig op sy persoonlikheid werp. Hierdie boek word in drie verskillende dele verdeel. In Eksposisie stel Wynand Vercuyl homself aan die leser voor en verduidelik hoe dit gekom het dat hy sy lewensverhaal skryf. Boek 1: Annunsiasie se titel verwys na die boodskap van die geboorte van Christus deur die engel Gabriël en is die boodskap wat elke mens ontvang wat na selfontdekking, heiligwording en eindelik na God lei. Wynand sluit by ’n Oosterse groep aan om te probeer om God deur meditasie te ontmoet, maar verwaarloos sy verhouding met sy vrou Cecilia en seun Guillaume.[23] Boek 2: Geboorte van ’n kind het betrekking op die geboorte van Wynand se kleinseun, in wie hy die voortsetting van homself sien, maar is ook simbolies van die Christelike godsdiens waar die onsterflike ewigheidskind wag om in elke mens gebore te word.[24] Wynand begin hier leer om lief te hê, te vergewe en te verdra.[25] Eindelik is daar die boodskap dat God steeds engele op ons pad stuur, al neem hulle in die moderne wêreld soms koddige gestaltes aan. Al die treffende simboliek word egter nie deurgaans voldoende benut of gemotiveer nie.[26]Hierdie boek word in 1983 vierde geplaas tydens die toekenning van die Louis Luyt-prys.

Die loop van die rivier bevat vier kort novelles of lang kortverhale. Die langste verhaal Kan jy stilbly? in hierdie bundel vertel van twee halfbroers, die wit Ado en bruin Jantjie, wat in die herfs van hulle lewens ’n reis na die Namakwaland onderneem om die afgrond tussen hulle te probeer oorbrug. Ado is suksesvol en ryk, terwyl Jantjie eenvoudig en arm is. Ado het egter sy lewe lank sy afkoms ontken en leef in selfbedrog, terwyl Jantjie sy identiteit erken en aanvaar. Die reis word ’n loutering vir Ado, wat eindelik daarin slaag om sy selfsugtige ingesteldheid af te lê. In Sonder handvatsels besef Klaus by sy vrou Hedi se doodsbed dat hulle, ten spyte van ’n langdurige gedeelde lewe, mekaar nooit werklik geken het nie en dat sy haar innerlike nooit werklik aan hom openbaar het nie. Die non Freda Bliss soek in Die boeteling na ’n mistieke belewenis met God, wat sy reeds in ’n visioen ervaar het.[27] Dit is eers nadat sy die beeld laat vaar en daarmee saam die eie-ek dat sy berusting vind.[28] Albei bene bymekaar se titel verwys na die stryd van die verwesterde swart man om sy tradisionele gelowe te versoen met sy Westerse stadslewe.[29]

Die roman Wolftyd vertel die verhaal van ’n onbevredigende huwelik eers uit die oogpunt van die vrou (Leonie Obach), nadat die huwelik misluk het, en dan in die tweede deel uit die oogpunt van die man Luk Obach na aanleiding van sy nagelate jeugdagboeke, om die aanloop te skets. Na Luk se dood gaan Leonie na Duitsland om Luk se verlede te probeer verstaan. Luk word as ’n jong seun groot in Nazi-Duitsland met ’n Joodse pa en sterk pro-Duitse sentimente. Sy Joodse afkoms maak dit egter onmoontlik vir hom om aan te bly in Duitsland en hy moet noodgedwonge vlug voor die opmars van Hitler en sy soldate. Hierdie gebeure veroorsaak dat hy na Suid-Afrika kom en later hier sterf as ongelowige, siniese en ontnugterde ou man. Hy trou met Leonie, ’n Calvinisties-Afrikaanse vrou, wat hom nooit werklik liefde gee nie, terwyl hy self by herhaling ontrou is en selfs tydens ’n besoek aan Duitsland ’n buite-egtelike kind verwek. Leonie ontdek na sy dood die omvang van sy huweliksontrou, wat ’n groot bitterheid en woede in haar kweek. Sy gee haar dan met passie oor aan haar skeppingsdrang en haar fisiese aangetrokkenheid tot die jong kunsdosent Anton Brünner, maar dra steeds die letsels van vyf en twintig liefdelose huweliksjare.[30] Eindelik ontvang sy besoek van Luk se seun uit Duitsland, wat aan haar Luk se jeugdagboeke gee waarin Luk sy ongelukkige jeug beskryf en die gebeure wat hom gemaak het wat hy geword het. Die verhaal is ’n boeiende studie van die stryd teen innerlike boosheid.[31] Leonie se soektog na groter kennis van Luk lei ook tot groter selfkennis, waardeur sy besef dat sy deel was van die probleem en hierdie insig lei ook tot groter deernis.[32] Die titel verwys na ’n tydperk waarin die menslikheid verlore gaan en boosheid die oorhand kry, wat van toepassing is beide op ’n samelewing (soos tydens die Nazi-bewind) en op die innerlike stryd binne die individuele mens.[33]In 1992 is Wolftyd ’n finalis vir die M-Net-prys.

Die donker kind se hoofkarakter is Antjie-die-Skipper, wat aan die begin van die verhaal aan die Weskus verdrink en wie se lewensverhaal dan in die res van die roman aangeteken word. Deur die komitee wat ondersoek word om haar dood te ondersoek, lewer die skrywer sosiale kommentaar en word Antjie se dood die katalisator vir die dorpsmense wat hulle verlede en skuld laat herleef. Antjie raak in haar onskuldige jeug as onderwyser verlief op ’n Noorse visser, met wie sy trou. Hy verlaat haar na sowat vyf jaar en sy neem die agter gelate vissersboot saam met haar twee dogters oor en na haar dogters se vertrek gaan sy alleen voort.[34] Die kern van haar geheim is die seun wat sy lank na die verdwyning van haar Noorse man gehad het. Die bestaan van hierdie kind was nie bekend nie en dit word eers ontdek wanneer tant Breggie na Antjie se dood deur haar briewe snuffel.[35] Niemand weet wat van hom geword het nie, wie die vader is en of dit ’n bruin of wit kind is nie. Slegs die vroedvrou Leah Esau kan lig werp op hierdie raaisel en dit blyk dat sy die een is wat hom as haar eie grootgemaak het.[36]Dit word algaande duidelik dat Antjie se verhouding met die bruin visserman Sam en die kind wat daaruit gebore is, vir haar geluk sou kon gebring het. Die verhouding was egter onmoontlik weens die politieke bestel en die gemeenskapswaardes van die tyd.[37]Hierdie boek word in 1998 oor die radio voorgelees.

Vos se handeling geskied hoofsaaklik op ’n plaas in die Hantam, waar die San-kultuur ’n groot rol speel. In die eerste gedeelte van die boek toon dit ook verskeie raakpunte met die Bybelboek Job (wat in die teks self genoem word), waar beide Job en Hendrik Vos boere is en begin met teenspoed en eindig met voorspoed, hoewel Vos se voorspoed meer geestelik as materieel van aard is. Vos is leier van die kerkraad op ’n dorp in die Noordweste wat reeds jare lank deur droogte geteister word. Eindelik daag Vos God uit en verklaar dat as God niks gaan doen nie, hy gedwing sal voel om iets te doen. Hy onderhandel met die reënmaker, die San Hans Bokpoot (so genoem weens die twee tone aan sy een voet), en sluit met sy bemiddeling ’n kontrak met die duiwel waarna hy die enigste boer is wat reën kry. Voorspoed volg, maar dinge begin skeefloop onder die invloed van die duister magte wat Vos ontketen het. Dominee Kossies word gedwing om in te gryp en hy dryf die bose uit Vos uit. Goethe se “Faust” is ’n verdere interteks vir hierdie gedeelte. Die tweede gedeelte het as interteks Patrick White se Voss, waar die hoofkarakter ’n uitgebreide reis deur die land onderneem om die mense te waarsku teen wat met hom gebeur het.[38] Hy vind egter grootliks die mensdom se preokkupasie met selfbelang, wat hulle daarvan weerhou om die boodskap te ontvang.[39]In 2000 is Vos op die kortlys vir die toekenning van die M-Net-prys.

Ander prosa

[wysig | wysig bron]

Nege van die kortverhale wat Anna M. Louw in die tydperk tussen 1952 en 1960 skryf, word in 'n Geseënde dag gebundel. Die verhale sentreer veral rondom randfigure in die samelewing, soos oumense, armes en eensames. Hoogtepunte in hierdie bundel is die verhale Herbert Birnzweig se slaaplose nag en Dié soort liefde, wat fokus op die selfsug in die ouderdom. Baie van die verhale is egter nie heg genoeg gestruktureer nie en eindig onbevredigend, sodat die bundel as geheel ongelyk aandoen. Van haar verhale word in versamelbundels opgeneem, waaronder Portret van ’n Deugniet (wat oorspronklik in Sarie Marais van 28 November 1956 verskyn) in Dames 17 onder redaksie van C.J.M. Nienaber en Wandeling met die kinders in Vrou: Mens saamgestel deur Corlia Fourie. Ander versamelbundels wat haar werk opneem sluit in Borde borde boordevol en Sewe sondes, nee meer, beide saamgestel deur Hennie Aucamp, Kompas van J.P. Smuts, Vertellers 2 van Merwe Scholtz, Op Afrikaanse werf van A. Schwerdtfeger en N.J. Snyman, Trekvoëls van A.P. Grové en Stad en stedelig, ’n versamelbundel met sketse en vertellings oor wêreldstede.  Die essay Hoogland onder die sterre bevat haar jeugherinneringe en dit word in die versamelbundel Klein koninkryk opgeneem.

Sy skryf drie reisverhale. Die Wes-Europese lande word beskryf in Agter my 'n albatros.[40] Die reis word per skip van Suid-Afrika onderneem en sy doen onder andere die Kanariese Eilande aan, waarna sy Duitsland, Oostenryk, Frankryk, Italië, Switserland, Nederland, België en Engeland besoek. A.P. Grové neem die gedeelte Stad met baie harte (oor Rome) uit hierdie boek op in Trekvoëls, ’n versamelbundel met reissketse.[41] Die Skandinawiese lande (Denemarke, Finland, Swede en Noorweë) asook Rusland word beskryf in Die wat met fluite loop, waaruit A.P. Grové ’n Nuwe ou stad en ’n ou nuwe stad in Trekvoëls opneem.[42] ’n Reis deur Israel is die tema van Die derde tempel waarin sy haar belewing van die Bybel met die konkrete ervarings van haar reis aanvul. Hierdie reisverhale bevat benewens die algemene beskrywing ook agtergrondinligting soos die geskiedenis van die land of gebied, terwyl sy ook telkens haar eie indrukke en opinie gee. Ook die klein menslike momente sien sy raak, wat kleur aan die vertellings verleen.[43][44]

Drama

[wysig | wysig bron]

Ook op dramagebied lewer sy ’n bydrae, hoewel haar dramas oor die algemeen nie dieselfde hoogtes as haar prosa bereik nie. Reeds in 1952 met die Van Riebeeckfees se dramawedstryd verower sy ’n derde prys vir haar inskrywing. Sy skryf die klug in drie bedrywe, Oom Kolie gee raad, waarin vele komiese misverstande opduik tydens ’n egpaar se huweliksherdenking en Oom Kolie se inmenging nie juis die situasie verbeter nie.[45] Haar eenbedryf Goud (wat sy vir ’n ATKV-wedstryd inskryf) word opgeneem in die versamelbundels Uitgesoekte eenbedrywe, onder redakteurskap van Gerhard J. Beukes, en Kollig onder redaksie van Charles Fryer. Hierdie drama toon hoe maklik ’n mens dit waarvoor jy die liefste is van jou kan vervreem, sonder dat jy eens daarvan bewus is. Adriaan de Beer soek onsuksesvol na goud op sy Vrystaatse plaas om vir sy vrou en kind ’n beter lewe te kan skep. Sy fokus is egter so sterk op hierdie soeke dat hy sy huwelik verwaarloos en byna sy vrou se liefde verloor, wat baie kosbaarder is as goud. Die eenbedryf Die beskermengel verskyn in Ken Swart se Die beskermengel en ander eenbedrywe en word ook deur W.P. Steenkamp opgeneem in Die reënboom en ander eenbedrywe. Dit is ’n komedie waarin die selfsugtige skrywer Jurgens gekonfronteer word deur sy gewese vrou (Susanna, die beskermengel van die titel), sy huidige vrou (die naïewe maar steeds lojale Hannie) en sy nuutste minnares, die hipermoderne maar oppervlakkige Tosca Smith. Jurgens het vir Hannie verlaat om by Tosca in te trek (net soos hy nege jaar tevore vir Susanna verlaat het vir Hannie), maar word nou deur die drie vroue in sy lewe gedwing om sy ware aard in die oë te kyk. In die proses word hy afgetakel sodat hy teen die einde feitlik weerloos agtergelaat word. Hierdie drama word ook vir die radio verwerk en uitgesaai.

Die hoorspel Drie dae na die land Moria het die versoekings wat Abraham ondervind terwyl hy met Isak op pad is na die berg Moria om hom te offer as tema. Elke dag kom die duiwel met ’n nuwe versoeking om Abraham se geloof te toets en elkeen van hierdie versoekings is ’n drama in die kleine. Abraham kom eindelik tot die helder besef dat hy God se gawe (Isak) hoër geplaas en meer liefgehad het as God self. Hierdie hoorspel word in 1970 deur die Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika uitgesaai en word ook opgeneem in Leendert Dekker se versamelbundel Drie Bybel-hoorspele. Die hoorspel Twee broeders reis saam word opgeneem in Hoorspelkeur. Terwyl hy per motor op reis is laai die predikant Okkie Grové die voortvlugtende misdadiger Billy Havenaar op, wat voorheen saam met hom op skool was. Deur die gebruik van dialoog en woordkeuse word die karakters ontbloot en gedifferensieer. Hierdie stuk word deur CARFO in ’n rolprent verwerk. Sy verwerk ook Die voortreflike familie Smit vir die televisie. In 1985 is sy medewenner van ’n SARUK-toneelprys onder haar getroude naam, Anna Bassel, vir die drama Seun van die daeraad, wat in 1987 deur TRUK opgevoer is.

Eerbewyse en toekennings

[wysig | wysig bron]

In 1976 hou die Afrikaanse Taal- en Kultuurbond ’n huldigingsgeleentheid vir haar, met Bartho Smit wat die huldigingsrede lewer. Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys ken in 1990 ’n eredoktoraat aan haar toe en sy ontvang in hierdie jaar ook ’n goue medalje van die Premio Adelaide Ristori – ’n Italiaanse onderskeidingstoekenning aan die vrou wat die gemeenskap op uitmuntende wyse gedien het. In 1996 vereer die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) haar met ’n oorkonde vir die groot bydrae wat sy gelewer het tot die bevordering van die Afrikaanse geskiedenis.

Ander pryse sluit in:

Publikasies

[wysig | wysig bron]
  • 1956 - Die onverdeelde uur
  • 1957 - Die koms van die komeet
  • 1959 - Agter my ’n albatros
  • 1962 - Die voortreflike familie Smit
  • 1963 – Twenty days that autumn
  • 1964 - Die banneling – Die lyfwag
  • 1965 - Oom Kolie gee raad
  • 1967 - Dié wat met die fluite loop
  • 1968 - Die groot gryse
  • 1969 - ’n Geseënde dag
  • 1975 - Kroniek van Perdepoort
  • 1978 - Die derde tempel
  • 1981 - Op die rug van die tier
  • 1986 – Die loop van die rivier
  • 1991 - Wolftyd
  • 1996 - Die donker kind
  • 1999 - Vos

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Boeke

[wysig | wysig bron]
  • Antonissen, Rob. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Nasou Beperk Derde hersiene uitgawe Tweede druk Elsiesrivier 1964
  • Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963
  • Antonissen, Rob. Spitsberaad. Nasou Beperk Elsiesrivier Eerste uitgawe Eerste druk 1966
  • Aucamp, Hennie. Kort voor lank. Tafelberg-Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe, Tweede druk 1980
  • Beukes, Gerhard J. (red.) Uitgesoekte eenbedrywe. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Vyfde druk 1954
  • Beukes, W.D. (red.) Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Nasionale Boekhandel Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe eerste druk 1992
  • Botha, Elize. Prosakroniek. Tafelberg Uitgewers Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe 1987
  • Brink, André P. Vertelkunde. Academica Pretoria en Kaapstad Eerste uitgawe 1987
  • Cloete, T.T. (red.) Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Nasou Beperk Eerste uitgawe 1980
  • Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970
  • Dekker, Leendert. 3 Bybelhoorspele. Tafelberg Uitgewers Bpk. Kaapstad en Johannesburg Eerste druk 1972
  • Du Toit, P.A. Die onverdeelde uur. Blokboeke 30 Academica Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1980
  • Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk Vyfde uitgawe Eerste druk 1988
  • Grové, A.P. Trekvoëls. Voortrekkerpers Beperk Johannesburg 1969
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
  • Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
  • Lindenberg, E. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Academica Pretoria en Kaapstad Vierde uitgawe Eerste druk 1973
  • Nienaber, P.J,; Senekal, J.H en Bothma, T.C. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel Tweede hersiene uitgawe 1963
  • Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe 1969
  • Odendaal, L.B. Hoorspelkeur. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1983
  • Schwerdtfeger, A en Snyman, N.J. Op Afrikaanse werf. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Tweede uitgawe 1988
  • Smuts, J.P. Karakterisering in die Afrikaanse roman. Hollandsch Afrikaansche Uitgevers Maatschappij Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1975
  • Smuts, J.P. (Red.) Kompas. HAUM Kaapstad Eerste uitgawe 1965
  • Van Biljon, Madeleine. Geliefde leesgoed. Quellerie-Uitgewers Edms. Bpk. Kaapstad Eerste uitgawe 1996
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 2. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1999
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 3. Van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 2006
  • Van der Merwe, Chris N. Anna M. Louw (1913-) in Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
  • Wybenga, Gretel en Snyman, Maritha (reds.) Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom. Lapa-Uitgewers Eerste uitgawe Tweede druk 2005

Tydskrifte en koerante

[wysig | wysig bron]
  • Botha, Amanda. Televisie-gier pak bekende skryfster beet. Die Transvaler, 16 Junie 1982
  • Breytenbach, Kerneels. Maar nou is dit anders. Beeld, 8 April 1976
  • Engelbrecht, Theunis. Anna M. Louw – ‘ek sal haar mis. Rapport, 15 Junie 2003
  • Fryer, Charles. Tagtig – en nog vol skop. Die Burger, 31 Desember 1993
  • Jansen, Herman. Anna M. Louw los ‘onsmaaklike’ werk. Rapport, 8 Augustus 1982
  • Korrespondent. Romanskrywer Anna M. Louw sterf ‘stil, sag’. Beeld, 13 Junie 2003
  • Le Roux, André. Al hoe minder inhibisies. Die Burger, 28 Oktober 1986
  • Nieuwoudt, Stephanie. Ek glo nie aan muses nie – Anna M. Louw. Plus, 5 Oktober 1999
  • Pienaar, T.C. en Botha, Elize. Gedagtewisseling oor ‘Kroniek van Perdepoort’. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 15 no. 4, November 1977
  • Smith, Marietjie: Anna M. Louw - 'n skryfster wat kán lag. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 38, nr. 2, Mei 1989
  • Smuts, J.P. Spel van die demonie: ‘Kroniek van Perdepoort’. Standpunte. Nuwe reeks 130, Augustus 1977
  • Van der Merwe, C.N. Op die rug van die tier – Antwoorde op die vraag: Wie is ek? Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 21 no. 1, Februarie 1983
  • Van der Merwe, Chris. Anna M. Louw meer relevant as ooit tevore. Plus, 18 Junie 2003
  • Van Zyl, Ia. Die ironie as struktureringsfaktor in ‘Op die rug van die tier'. Standpunte. Nuwe reeks 160, Augustus 1982
  • Vosloo, Johan. Anna M. Louw… eenloper in ons letterkunde. Rapport, 25 April 1976
  • Wasserman, Herman. Kyk wie’s op die Weskus-wa: Anna M. Louw. Bylae by Nasionale Koerante, 18 September 1996

Internet

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 http://www.stellenboschwriters.com/louwa.html
  2. "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 April 2016. Besoek op 9 September 2016.
  3. 3,0 3,1 3,2 http://www.litnet.co.za/anna-m-louw-1913-2003/
  4. http://esat.sun.ac.za/index.php/Anna_M._Louw
  5. 5,0 5,1 "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 April 2016. Besoek op 9 September 2016.
  6. Antonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 17 en 18, Mei-Desember 1957
  7. Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963
  8. Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963
  9. http://www.springbokboeke.co.za/html/skrywers.html
  10. Antonissen, Rob. Standpunte. Nuwe reeks 57, Februarie 1965
  11. Antonissen, Rob. Spitsberaad. Nasou Beperk Elsiesrivier Eerste uitgawe Eerste druk 1966
  12. Botha, Elize. Standpunte. Nuwe reeks 80, Desember 1968
  13. Blignault, Audrey. Die Huisvrou, September 1975
  14. Brink, André P. Rapport, 13 Julie 1975
  15. Brink, André P. Voorlopige Rapport. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1976
  16. Eksteen, Louis. Standpunte. Nuwe reeks 126, Desember 1976
  17. Van Niekerk, Annemarié. Beeld, 10 Maart 2014
  18. Smuts, J.P. Burgerband. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1985
  19. G.S. Die Vaderland, 24 Oktober 1975
  20. Spangenberg, D.F. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 13 no. 4, November 1975
  21. Van der Walt, P.D. Die Transvaler, 3 Julie 1975
  22. Steenberg, D.H. Beeld, 7 Julie 1975
  23. Blignault, Audrey. Die Transvaler, 15 Februarie 1982
  24. Olivier, Gerrit. Rapport, 20 Desember 1981
  25. Smuts, J.P. Burgerband. Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1985
  26. Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 2, Mei 1982
  27. Brink, André P. Rapport, 9 November 1986
  28. De Vries, Abraham H. Die Burger, 27 November 1986
  29. Van Zyl, Ia. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 25 no. 4, November 1987
  30. Van Zyl, Ia “Rapport” 14 Julie 1991
  31. Grové, A.P. Beeld, 12 Augustus 1991
  32. Botha, Johann. Die Burger, 16 Julie 1991
  33. Kannemeyer, J.C. Op weg na 2000. Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998
  34. Kannemeyer, J.C. Op weg na 2000. Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998
  35. Olivier, Fanie. Beeld, 7 Oktober 1996
  36. Pheiffer, Roy. Insig, September 1996
  37. Venter, L.S. Rapport, 15 September 1996
  38. Grové, Henriette. Beeld, 20 September 1999
  39. Wybenga, Gretel. Insig, November 1999
  40. Roodt, P.H. Die Transvaler, 21 April 1979
  41. Spangenberg, D.F. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 17 no. 2, Mei 1979
  42. Olivier, Gerrit. Standpunte. Nuwe reeks 142, Augustus 1979
  43. Nienaber-Luitingh, M. Beeld, 27 November 1978
  44. Brink, André P. Rapport, 10 Desember 1978
  45. Cloete, T.T. Standpunte. Nuwe reeks 64, April 1966