Digitale fotografie
Digitale fotografie is 'n moderne vorm van fotografie. Dit maak gebruik van digitale kameras met rye vol paneeltjies elektroniese fotosensors, wat beelde wat deur 'n lens gefokus word vaslê, in teenstelling met ligblootstelling aan fotografiese film. Die beelde word gedigitaliseer en as 'n rekenaarlêer in 'n geheuemedium (gewoonlik op 'n aparte skyfie) gestoor, gereed vir verdere digitale verwerking, besigtiging, digitale publikasie of druk.
Tot met die koms van sodanige elektroniese tegnologie, is foto's geproduseer deur ligsensitiewe fotografiese film en papier aan die ligbeeld bloot te stel, wat dan in vloeibare chemiese oplossings verwerk is om die beeld te ontwikkel en te stabiliseer. Digitale foto's word egter deur rekenaargebaseerde foto-elektriese en meganiese tegnieke geskep, sonder natbad chemiese verwerking soos met film.
Digitale fotografie is een van verskeie vorme van digitale beelde. Digitale beelde word ook geskep deur nie-fotografiese toerusting soos rekenaartomografieskandeerders en radioteleskope. Digitale beelde kan ook gemaak word deur die skandering van ander gedrukte fotografiese beelde of negatiewe.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die eerste verbyvlugbeelde van Mars is uit die Mariner 4-ruimtetuig geneem op 15 Julie 1965 met 'n kamera wat deur NASA/JPL ontwerp is. Dit het 'n videokamerabuis gebruik, gevolg deur 'n Digitizer, eerder as 'n mosaïek van vastetoestand sensorelemente, so dit was nie wat ons gewoonlik definieer as 'n digitale kamera nie, maar dit het 'n digitale beeld gestoor op band vir latere stadige oordrag terug na die aarde.
Die eerste aangetekende poging in die bou van 'n digitale kamera was in 1975 deur Steven Sasson, 'n ingenieur by Eastman Kodak. Dit gebruik die destydse nuwe vastetoestand CCD- (ladinggekoppelde toestel, 'n hoëspoed-halfgeleier) beeldsensorskyfies deur Fairchild Semiconductor ontwikkel in 1973. Die kamera wat 3,6 kg geweeg het, het swart-en-wit beelde op 'n kassetband gestoor. Dit het 'n resolusie van 0,01 megapieksels (10 000 pieksels), en het 23 sekondes benodig om die eerste beeld te vas te lê in Desember 1975. Dit was 'n prototipekamera vir 'n tegniese oefening en nie bedoel vir enige produksie nie.
Ontwikkeling
[wysig | wysig bron]Die eerste digitale verbruikerskameras is sedert die laat 1990's bemark. Beroepsfotograwe het eers stadig oorbeweeg na digitale fotografie, maar is tot oorgawe gedwing toe hul professionele werk die gebruik van digitale lêers begin vereis het. Dit was om aan die eise van hul werkgewers en/of kliënte te voldoen, vir 'n vinniger omkeertyd as wat konvensionele metodes sou toelaat.
Rondom 2007 is digitale kameras in selfone ingebou, en sedertdien word selfoonkameras wydverspreid benut, veral weens hul verbinding tot sosiale mediawebwerwe en e-pos. Sedert 2010, het die digitale mik-en-druk en DSLR formate ook mededinging ervaar van die spieëllose digitale kameraformaat, wat tipies 'n beter kwaliteit prent as die mik-en-druk en selfone lewer, maar in 'n kleiner grootte en vorm kom as die tipiese DSLR. Baie spieëllose kameras pas verwisselbare lense en het gevorderde funksies soos 'n elektroniese soeker, wat die deur-die-lenssoeker van die SLR formaat vervang.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |