Hartaknoet
- Vir Hartaknoet (omstreeks 890-??), die legendariese koning van Denemarke, sien Hartaknoet van Denemarke.
Hartaknoet | |
---|---|
Koning van Denemarke en Engeland | |
Koningin Emma van Normandië met haar seuns Hartaknoet en Eduard die Belyer op die agtergrond (Encomium Emmae Reginae, 1041–42).
| |
Huis | Jelling |
Titel | Koning van Denemarke |
Regeer | 1035–1042 |
Voorganger | Knoet die Grote |
Opvolger | Magnus I |
Titel | Koning van Engeland |
Regeer | 1040–1042 |
Voorganger | Harold Haasvoet |
Opvolger | Eduard die Belyer |
Gebore | 1018; Engeland |
Oorlede | 8 Junie 1042; Engeland |
Vader | Knoet die Grote |
Moeder | Emma van Normandië |
Hartaknoet of Hardeknoet (Engels: Harthacanute, Deens Hardeknud; 1018 – 8 Junie 1042) was van 1035 tot met sy dood koning van Denemarke as Knoet III en van 1040 af ook koning van Engeland.
Opvolgingskrisis
[wysig | wysig bron]Hy was die enigste seun van Knoet die Grote en Emma van Normandië. In 1035 het hy sy pa opgevolg as koning van Denemarke. Hy was ook die wettige erfgenaam van die troon van Engeland, maar kon nie na Engeland reis vir sy kroning nie omdat Noorweë en Swede Denemarke wou binneval. Sy halfbroer Harold Haasvoet, Knoet se seun by Elgifa van Northampton, is intussen ondanks teenkanting as regent aangestel.
In 1036 het Harold ’n poging afgeweer om hom te onttroon. Dit is gelei deur Alfred Adeling en Eduard die Belyer – die twee seuns van Hartaknoet se ma by Ethelred II. In die volgende jaar het Emma uit die land gevlug en Harold is "oral as koning gekies".[1]
Koning van Engeland
[wysig | wysig bron]Hartaknoet het intussen sy probleme tuis opgelos deur in 1038 of 1039 ’n verdrag te sluit met Magnus I van Noorweë. Daarvolgens het hulle ooreengekom dat indien die een sonder kinders sou sterf, die ander hom sou opvolg. Hartaknoet het toe beplan om Engeland binne te val, maar voor hy tot aksie kon oorgaan, is Harold op 17 Maart 1040 dood. Nadat Hartaknoet koning geword het, is Harold se lyk opgegrawe, onthoof en in ’n moeras gegooi.
Hartaknoet was ’n ongewilde leier. Om vir sy vloot te betaal het hy swaar belasting opgelê. Hy was nie getroud nie en het nie kinders gehad nie. In 1041 het hy sy halfbroer Eduard die Belyer uit bannelingskap genooi en hom waarskynlik as erfgenaam gekies. Hy is in 1042 dood[2] en is in Winchester begrawe.
Herstel van die Huis van Wessex
[wysig | wysig bron]Eduard het hom opgevolg en so het die Huis van Wessex vir ’n kort rukkie weer oor Engeland regeer.
Verwysings
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Hartaknoet. |
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Hardeknoet
- ↑ The Anglo-Saxon Chronicle, 1035–40, M. Swanton-vertaling (1996).
- ↑ Anglo-Saxon Chronicle