Gaan na inhoud

Johannes Vermeer

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Johannes Vermeer

Detail van die skildery Die Koppelaar (ca. 1656), 'n moontlike selfportret van Johannes Vermeer.[1]
Geboortenaam Johannes Reyniersz. Vermeer
Gebore Gedoop op (1632-10-31)31 Oktober 1632
Delft, Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande
Sterf 15 Desember 1675 (op 43)
Delft, Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande
Nasionaliteit Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande
Veld Kunsskilder
Opleiding Carel Fabritius?
Beweging Goue Eeu
Barok
Werke 34 werke is universeel aan hom toegeskryf[2]

Johannes Vermeer (Nederlands: [joːˈɦɑnəs jɑn vərˈmeːr]; 1632 – Desember 1675) was 'n Nederlandse skilder. Hy word dikwels as een van die beste skilders in die geskiedenis van die Nederlandse kuns beskou. Die 17de eeu in die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande was 'n tydperk wat die hoogtepunt van die Nederlandse kultuur, wetenskap, handel en mag gevorm het.

Hy het in 1653 met Catharina Bolnes getrou. Hy was ook 'n handelaar in skilderye. Vermeer se bekendste skilderye is: Aansig van Delft, Die kitaarspeler, Die melkmeisie en Meisie met die pêrel.

Johannes Vermeer is naas Rembrandt die beroemdste skilder uit die Hollandse Goue Eeu. Die effek van sy bedrieglik eenvoudige skilderye is verkry deur transparante kleure, die gebalanseerde komposisie en koel, helder ligeffekte. Johannes Vermeer is op 31 Oktober 1632 gedoop; sy presiese geboortedatum is onbekend.

Sy oeuvre is besonder klein: slegs sowat 30 skilderye kan met sekerheid aan hom toegeskryf word en die datering daarvan is uitsonderlik moeilik. Vermeer se vroegste gedateerde skildery, Die koppelaarster (1656; Gemäldegalerie, Dresden), toon min van sy latere meesterskap.

In Die offisier en die laggende meisie (1660?; Frick Collection, New York) is daar reeds vordering ten opsigte van tegniek te bespeur, wat verder ontwikkel en verfyn is in Jong vrou met brief (na 1660; Rijksmuseum, Amsterdam), waarin alle handeling ontbreek en die klem op kleur en lig val. Dieselfde treffende eenvoud kenmerk ook Die melkmeisie (Rijksmuseum, Amsterdam) en Die liefdesbrief (Rijksmuseum, Amsterdam), wat al 'n komplekser komposisie vertoon.

Vermeer is nie net die absolute meester van die genre-stuk nie, maar het ook 2 skitterende stadstonele, Gesig op Delft (Mauritshuis, Den Haag) en Die straatjie (Rijksmuseum, Amsterdam) geskilder. Die allegoriese werk Die skilderkuns (Kunshistoriese Museum, Wenen) was die enigste wat in Vermeer se besit was toe hy gesterf het, en dit kan beskou word as sy artistieke testament.

Hierdie groot doek bevat 'n aantal elemente waarvan die betekenis nog nie volkome ontsyfer is nie, maar tegnies en artistiek is dit ongetwyfeld 'n meesterstuk. Hoewel Vermeer deur sy tydgenote na waarde geskat is, het hy na sy dood in die vergetelheid geraak en sy werk is eers in die 20e eeu herontdek. Hy is op 15 Desember 1675 in die Oude Kerk in Delft begrawe.

Beelde

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "The Procuress: Evidence for a Vermeer Self-Portrait". Besoek op 13 September 2010.
  2. (en) Jonathan Janson, Essential Vermeer: complete Vermeer catalogue. Besoek op 16 Junie 2010.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]