Karlovy Vary
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Tsjeggië |
Historiese streek | Boheme |
Kraj (gewes) | Karlovarský kraj |
Okres (distrik) | Karlovy Vary |
Koördinate | 50°13′50″N 12°52′21″O / 50.23056°N 12.87250°O |
Stigting | 10de eeu of vroeër |
Stadstatus | 14 Augustus 1370 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 59,1 vk km |
Hoogte bo seevlak | 447 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2017) | 49 046 |
- Bevolkingsdigtheid | 829,9/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | - |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | - |
- Gem. temp. Januarie/Julie | - |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | - |
Stadspresident (primátor) | Petr Kulhánek |
Amptelike Webwerf | www.karlovyvary.cz |
Karlovy Vary (Duits: Karlsbad, vroeër ook Carlsbad), geleë in die weste van Tsjeggië, is een van die bekendste en mees tradisieryke hersteloorde ter wêreld. Saam met twee ander hersteloorde – Františkovy Lázně (Franzensbad) en Mariënbad (Tsjeggies: Mariánské Lázně, Duits: Marienbad) – vorm Karlovy Vary die hartland van die sogenaamde Wes-Boheemse Driehoek van Mineraal- en Warmbaddens. Die stad met 'n bevolking van meer as 49 000 is in 'n nou vallei by die Teplárivier se monding in die Ohře (Duits: Eger) geleë. Voor die Tweede Wêreldoorlog was Karlsbad se bevolking nog merendeels Duitssprekend.
Die huidige stad se oorspronge strek terug tot in die 14de eeu. Volgens historiese oorlewerings het Karel IV, koning van Boheme en keiser van die Heilige Romeinse Ryk, tydens 'n jag op die warmbronne afgekom (een van sy jaghonde het per ongeluk daarin beland) en hier 'n nedersetting laat vestig wat sy naam sou dra en waaraan nog in sy eerste bestaansjaar, op 14 Augustus 1370, stadstatus toegeken is. 'n Ouer nedersetting, Wary of Vary, het hier of naby egter sedert die 10de eeu of selfs vroeër bestaan. Die warmbaddens was reeds in die 16de eeu uiters gewild by welvarende adellike families. As gevolg van brandrampe en oorstromings het min geboue uit dié tydperk bewaar gebly. So dateer die meeste van Karlsbad se argitektoniese besienswaardighede uit die stad se bloeitydperk in die 18de en 19de eeu.[1]
Die oorheersende argitektoniese style is Neobarok en Neorenaissance. Twee Weense argitekte, Ferdinand Fellner en Hermann Hellmer, was meer as twee dekades in die destydse Karlsbad werksaam. Die prestigieuse projekte, wat hulle hier verwesenlik het, sluit die Grandhotel Pupp, die Keiserbadhuis (Kaiserbad), die stadskouburg, die Parkkollonades en die uitkyktoring Goetheblick in.[2]
In 2021 is Karlovy Vary deur Unesco as wêrelderfenisgebied onder die sambreelterm "Historiese spa's van Europa" gelys, saam met Františkovy Lázně en Mariënbad (albei Tsjeggië); Spa (België); Baden bei Wien (Oostenryk); Bad Ems, Baden-Baden en Bad Kissingen (Duitsland); Vichy (Frankryk); Montecatini Terme (Italië); en Bath (Verenigde Koninkryk).[3]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (de) www.karlovyvary.cz – Praktiese inligting. Besoek op 5 Julie 2017
- ↑ (de) Kerstin und André Micklitza: Böhmisches Bäderdreieck. Rund um Franzensbad, Karlsbad und Marienbad. Tweede hersiene uitgawe. Berlyn: Trescher 2017, bl. 27
- ↑ (en) "The Great Spa Towns of Europe". Unesco. Besoek op 25 Julie 2021.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Karlovy Vary.
- (en) Toerisme-inligting oor Karlovy Vary op Wikivoyage
- (cs) Amptelike webwerf